|
Volgens oorlewering is hy gebore met ’n baard en tande kon hy praat en sy hande vir alles gebruik. So het dit gebeur net so net so. Musoka – sy ma sy ma draai hom draai hom toé in ’n lepaaikombers. Mukiti - sy pa sy pa gee hom toe ’n knopkierie ’n skerp assegaai en ’n skimmelvers. so het dit gebeur net so net so. |
|
Hy vang ’n geellipslang in ‘n kaalhandklem hy sny die geellipslang oop met ’n lem hy melk die gif van die geellipslang hy vang die gif van die geellipslang in die sagte dieptes van sy wang so het dit gebeur net so net so. |
|
Rammetjie-uitnek... so het die sirkel begin net so net so. Op ses toe speel hy trom dans die volstruisdans suggestief aiee sê die vroue aioo sê die manne en die oudstes? die oudstes kyk anderpad. Op sewe lees hy voorbodes in geraamtes in voèls áásvoëls sè hy is altyd billik aiee sê die vroue aioo sê die manne en die oudstes? die oudstes kyk anderpad. Op agt pla hy almal met vrae met vrae en ga! hoe kan dit waar wees? aiee sê die vroue aioo se die manne in een stem sê die oudstes: loop pluk skilpadvere! Op nege jag hy leeus hy slag een af sit die kop op sy kop hang die skouers oor sy skouers gebruik die stert vir ‘n liesriem aiee sê die vroue aioo sê die manne en die oudstes? die oudstes kyk anderpad. |
|
Herklaas was ’n held met sy leeuvel pronk hy rond brul van plesier ’n soepel lat en dubbel dier. Kom kom sê die mense daar’s ’n monster los in die dennebos hy’t nege koppe hy’t die lyf van ‘n hert hy’t ‘n pyl in sy stert ons hoor ons hoor as jy ruik aan sy spoor dan gryp die gif jou gees deur die tonnels van jou neus. Wag wag sê Herklaas en sonder om te raas draai hy sy neus met sy leeuvel toe vat hy ’n koolwarm tak in ’n beespenssak vat hy nege hoenders en ‘n vlymskerp mes vat hy ’n reuse-knuppel en ’n koringbierfles. Hy kry die monster in die bos maak die hoenders een-een los soos wat die koppe vreet kry hy hulle een-een beet Woeps met die knuppel sny met die lem skroei waar dit bloei met die tak uit die sak. Herklaas was ’n held met sy leeuvel pronk hy rond brul hy van pure plesier en drink hy sy koringbier. |
|
In perfekte balans tussen wakker en slaap lê Herklaas onder ’n boom en droom. Hy droom en droom oor die koning se dogter (sy is vroom en fatsoenlik sê nie kwik of kwak nie rook nie dagga of twak nie drink nie tiermelk of bier nie doen amper niks vir plesier nie) Herklaas lê onder ‘n boom hy droom van haar sy kop is vol van haar oopoog droom hy van haar. En die wêreld sluip suutjies verby die boom waar Herklaas droom. |
|
Die koning se dogter word Herklaas se vrou Musoka huil uit een oog uit maar haar hart is bly en droog die beste beestevleis die volste kalbasse word voorgesit. Die mense dans en sing elke kakebeen lag - soos mielies op ‘n stronk sit elke tand oop. Geen padda of muis loer nie uit sy gat uit nie geen voël of vis kyk nie om nie geen gees of vlees neem nie kennis nie Want Herklaas trou en die koning se dogter word sy vrou. |
|
Onder die vlerk van die nag lë Herklaas en sy maagdelik bruid. Haar stem is soeter as heuning haar mond is kalfiehonger sy lek dors en drink aan die sap van sy lyf. Haar wildsbokkieoë is skaam en skalks tegelyk groen kalbassies is haar borste die tuitjies wip op en word styf. En Herklaas? boogsnaargespanne tril Herklaas brul Herklaas soos ’n leeu en skiet tweelingseuns in haar op. |
|
Op ’n mooi dag het Herklaas gaan jag hy soek vir sy bruid ’n geskenk soos geen ander nie nie ’n hierjy vinkel en koljander nie maar iets wat hy iewers kan buit. Is almal dronk? want Herklaas pronk op vier bene rond. Hy’t ’n stert wat hy lig vir ‘n vy en sy bene het spikkels gekry en hy flits soos ’n blits hier verby. Kyk hy klim af van die ding wat kan draf die ding wat bly staan is ’n diereding sonder naam. Dis om jou te abba sê Herklaas vir sy vrou dit is ekstraspesiaal vir jou. Al die vrouens en die mans en die kinders (seuns en dogters) het groen van jaloesie geword. |
|
Dié Herklaas raak te pronkerig Sinspeel sy vyande en gee hom ’n kom vol melksap uit ’n slaapbol sodat hy dronkerig op sy slaapmat omrol en onwetend ’n stuk van ’n skerpioen platdruk. Hulle dra hom stilletjies na die oewer van die kuil waar Kaang die waterslang skuil om daar witgeskrik tussen die biesies te sit en te kyk hoe Kaang sy kake uit lit uit pluk Om Herklaas in baie klein bietjies stuk vir stuk geheel en al in te sluk. |
|
Herklaas word wakker hy lê fetusslap en broei warm in ’n galsterige gistende gastriese belemmering vol asemberowende stanke. Hy spring pennetjieorent begin verbete hap en kap en krap aan die wande wat halsstarrig teruggroei waar hy hap en kap en krap. Oor die sonderlinge herstellingsvermoë trek Herklaas maar net sy skouers op later voer hy stukkies maagwand aan die krappe en krewe wat tussen die sappe rondskarrel. Drie volle dae en drie volle nagte het Herklaas gehap en gekap en gekrap om middernag van die derde dag toe klim hy uit op die oewer van die spruit uit die pens van die waterdier en hy sê: Ai, die wêreld ruik lekker hier. |
|
Ek is verveeld met hierdie plek sê Herklaas. Ek gaan nou by Nzame-daar-bo bly sê Herklaas. En hy pak sy goed hy vat sy vrou en sy kinders en sy beeste en sy skape en sy hoenders en hy trek. |
|
Die mense sê selfs daar waar daar nie ’n haan is nie sal die dag breek. Maar wat is Herklaas dat hy soos ’n vleisetende plant of ’n vliënde vis in die bo- en onderwêreld kan loop? Ons sal hom mis sê die mense maar selfs daar waar daar nie ’n haan is nie sal die dag breek. So is die sirkel voltooi net so net so. |